Leave us your details for up to the minute movie news

Twee Grade van Moord in fliekteaters 22 Julie

Inline images 1

Hy sit ontspanne en leun rustig agteroor in die stoel van die koffiewinkel waar hy met die Northcliff/Melville Times gesels. Terwyl hy vertel van sy ellelange loopbaan is daar ‘n glimlag op sy gesig.

‘n Mens kan sien, hierdie is nie net sy werk nie, maar sy passie.

Gerrit Schoonhoven, inwoner van Greymont, het in Potchefstroom drama gestudeer toe dit nog as vakgebied beskikbaar was. Hy is reeds die afgelope tien jaar regisseur van die bekende KykNet Sepie Binnelanders, maar het onlangs vir die eerste keer sy lyf regisseur gehou vir ‘n rolprent.

Twee Grade Van Moord word op 22 Julie vrygestel. Die hoofrolle word deur Afrikaanse vermaaklikheidslegendes, Marius Weyers en Sandra Prinsloo vertolk. “Ek het na my studies by Truk begin en my eerste professionele rol was Vasvat van ‘n fleeks, wat gegrond is op Shakespeare se Taming of the Shrew. Marius en Sandra het die hoofrolle in die teaterproduksie gespeel,” het Schoonhoven gesê.

Sy unieke haarstyl verklap sy kreatiwiteit en weereens verskyn die vriendelike glimlag op sy gesig. “Die skrywer van Twee Grade Van Moord, Anita le Roux het vir Weyers gevra wie die regisseur vir die rolprent moet wees. Hy het aan my gedink.”

Wanneer ‘n mens ‘n rolprent vervaardig moet jy te alle tye alle ouderdomsgroepe in gedagte hou, verduidelik Schoonhoven. “Marius en Sandra saam met Shaleen Surtie-Richards is ‘n baie goeie kombinasie. Daar is ook opwindende jongmense in die rolprent wat jonger mense sal lok.”

Hy het al baie lekker projekte in sy lewe aangepak, maar hierdie rolprent lê hom die naaste aan die hart. “Mense gaan vir lank hieroort praat. Dit handel oor omstrede onderwerpe en is nie nog ‘n gewone Suid-Afrikaanse rolprent nie.”

Die grootste uitdaging van hierdie projek was vir Schoonhoven die tyd. “Mens baklei altyd teen tyd. Jy het nooit genoeg tyd nie, maar ons het voor die tyd ‘n ‘rehearsal’ gehad.” Hy noem dat hy uiters trots is op die produk. “Dit is nie ‘n kunsfilm nie. Dit is ‘n film vir alledaagse mense.”

Schoonhoven is nie net akteur in rolle soos Isidingo en Leon Schuster se Payback the Funny nie, maar hou ook sy lyf akteur vir talle toneelstukke. Hy is ook regisseur vir bekende sepiereekse en kan ook nou rolprent-regisseur op sy kerfstok plaas. “Oor 50 jaar gaan al wat nog agter my naam gaan staan Twee Grade Van Moord wees. Die rolprent gaan nie oor moord nie, maar oor liefde en vra wat jy bereid is om te doen vir liefde.”