Leave us your details for up to the minute movie news

Verskietende Ster

Die storie van ‘n musikale wonderkind met die gewig van ‘n onregverdige wêreld wat dreig om die sy lig te oorskadu.

Verskietende Ster vertel die storie van Phillip Schuman, die 15-jarige seun met ‘n ondenkbaar musikale talent. ‘n Begaafde pianis, maar met die seer van ‘n wêreld wat dreig om sy lig te oorskadu.

Wanneer Max du Toit, ‘n middeljarige vakadviseur, Phillip een van sy eie komposisies sien speel, weet hy onmiddelik dat hierdie seun die vermoë het om ‘n ware Beethoven te word. Hy neem Phillip dadelik onder sy vlerk, maar besef gou dit is nie so maklik soos hy aanvanklik geglo het nie.

Maria Schuman, Phillip se pragtige en diep godsdienstige ma sterf aan kanker en laat vir Phillip en vader Tomas agter. Die pa wat lankal nie meer wou hê Phillip moet klavier speel nie. Omhul in ellende deur sy vrou se afsterwe verbied Tomas vir Phillip om óóit weer aan ‘n klavier te raak. Die interne stryd vir musiek, ‘n boelie wat met ‘n ysterhand regeer by die skool, Max du Toit wat Phillip probeer help en die meisie waarop Phillip smoorverlief is, skep spoedig enorme konflik vir almal.

Op ‘n stadium het Phillip genoeg gehad en kies om op te staan. Hy beland in die hoof se kantoor wat tot verdere dramatiese gevolge lei wanneer Meneer Taylor ‘n enorme kneusplek op Phillip se liggaam gewaar.

Dorothy Smit, die skool se maatskaplike werker, kom praat met Phillip oor die verlies van sy moeder, sy skoolpunte, sy vriende en sy liefde vir musiek. Deur middel van hierdie gesprek beskryf Phillip ‘n geleentheid of twee waar hy langs die geslote klavier by die huis gevang is en sy pa in vurige woede uitgebars het. Hy onthul ook aan haar ‘n gróót geheim waar hy alleen saam met Max du Toit na sy huis gegaan het.

Wanneer Tomas alle beheer verloor en vir Phillip met ‘n krieketkolf aanrand totdat die wêreld om hulle stil raak, neem die storie ‘n wending waarin die waarheid om Tomas se verlede ontbloot word: Phillip moet kies tussen vergifnis en die verlede.
Verskietende Ster is nie net ‘n inspirerende verhaal wat wys hoe almal met ‘n talent gebore is vir ‘n rede nie, maar wys ook op die krag van vergifnis. ‘n Ware pa & seun verhaal wat beloof om elke kyker tot in die diepste wese aan te raak.