Leave us your details for up to the minute movie news

Twee Grade van Moord

Sinopsis

Twee vroue en twee moorde. Die een is manslag wat ’n weerspieëling is van die uiterste vorm van selfgesentreerdheid; die ander een is die onselfsugtigste handeling van alle handelinge. Aleksa Cloete, ’n bekende Kaapstadse sielkundige, en haar pasiënt, Tanya Basson, gaan uitvind wat die verskil tussen die twee is – ongeag wat die wet daaroor sê.

Aleksa Cloete (Sandra Prinsloo), ’n bekende Kaapstadse sielkundige, het ’n blitsverkoper met die naam Love Doesn’t Hurt, geskryf, maar ten spyte van ’n lang en gelukkige huwelik met ’n toegewyde eggenoot, Ben (gespeel deur Marius Weyers), is haar begrip van die liefde volkome intellektueel. Hulle enigste kind, Christiaan (gespeel deur Roelof Storm) moes tydens sy grootword jare staatmaak op sy “tweede ma”, die gesin se getroue huishoudster Fy Abrahams (gespeel deur Shaleen Surtie-Richards) vir enige broodnodige versorging of vertroeteling. As gevolg hiervan tree Christiaan soms openlik antagonisties teenoor Aleksa op.

Ten spyte van Aleksa se persoonlike tekortkominge word ’n werklikheidstyl-dokumentêre rolprent gemaak oor haar deurbraak terapeutiese werk met vroue wat pyn met liefde verwar – en een van haar pasiënte, Tanya Basson (Hilda Cronjé), het ingestem dat haar lewe as ’n gevallestudie in die dokumentêre prent gebruik word. Tanya is in ’n verhouding met ’n would-be gospel-musiekster, ’n huigelaar wat sy “wedergeboorte”-status gebruik om sy gedrag teenoor haar, gedrag wat aan mishandeling grens, te regverdig.

Een Vrydagaand, nadat Ben en Aleksa ’n heerlike aand saam deurgebring het, kry Ben onverwags ’n hartaanval. Hoewel hy dit oorleef , is die gevolge daarvan vir hom erger as die dood omdat hy van sy nek af ondertoe verlam is.
Aleksa begin dadelik om haar verantwoordelikhede af te skaal sodat sy Ben kan versorg en sy hou haar doof vir sy pleidooie dat sy met haar lewe as openbare figuur moet voortgaan. Sy gee aan die vervaardiger van die dokumentêre fliek (Frankie Pietersen) toestemming om die situasie met Ben in die prent te gebruik, hoofsaaklik omdat sy hoop dat die verfilming dan vinniger afgehandel sal wees. Die feit dat Christiaan onverwags haar besluit goedkeur, oortuig Aleksa daarvan dat sy die regte ding doen.

En nie lank daarna nie daag Tanya by Aleksa se huis op met die nuus dat sy haar vriend tydens ’n onstuimige bakleiery doodgemaak het. Tanya word van moord aangekla waarna ’n uitgerekte regsproses begin. Aleksa besef dat sy Tanya se emosionele gemoedstoestand heeltemal onderskat het. Ben het intussen ’n belangrike besluit geneem wat beteken dat hy hulp nodig gaan hê om sy lewe te beëindig.

Namate die storie ontwikkel, word Aleksa gedwing om haar integriteit te bevraagteken en haar onvermoë om werklike opofferings te maak vir die mense waarvoor sy omgee, in die oë te kyk. Einde ten laaste word sy met die vraag, “wat sou liefde nou gedoen het?”, gekonfronteer.

Sandra Prinsloo en Marius Weyers is albei ervare, hoogs gerespekteerde akteurs en huishoudelike name in Suid-Afrika. Hulle het nog net in vier rolprente saam gespeel, onder andere die internasionaal bekende The Gods Must Be Crazy (1981), maar hulle het in 1989 laas teenoor mekaar in ’n rolprent opgetree – wat beteken dat Twee Grade van Moord ’n kinematiese reünie vir hulle albei en ’n mylpaal in Suid-Afrika se rolprentgeskiedenis is.

Produksie NotasProduction NotesFacebookQueries or Questions